Words,words,words

Toemaar die donker man
Vir Simone

Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap ’n ou man wat
’n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en ’n rug gebuk aan sy jare.

Wat maak hy, mammie?

Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.

Wat is sy naam, mammie?

Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet
uit die land van Vaak
Sy naam is   toe maar
hy heet, my lam
Toemaar, die donker man

Mammie...

Toemaar, die donker man

Ingrid Jonker (1933-1965)

Ingrid Jonker, Versamelde Werke; Human & Rousseau, Roggebaai; ISBN 079813352X
Ingrid Jonker, Ik herhaal je; Podium, Amsterdam; ISBN 9059590832
Ingrid Jonker, Selected Poems; Human & Rousseau, Roggebaai; ISBN 0798141786

Top