Words,words,words

Die lied van die gebreekte riete

Die wind uit die Torwana-berge
het haar skoot vol mos
Sy dra ’n slapende kind
sy siteer die sterre
met die stem van breë waters
teen die wit gebeente van die dag

Die wind uit die Torwana-berge
oewerloos sonder horison sonder seisoene
het die gesig van alle mense
het die aalwyn van die wêreld voor haar bors
het die lam van alle vreugde oor haar skouer
en die laksman van elke dagbreek in haar oë

Die wind uit die Torwana-berge
met haar skoot vol mos
dra ’n slapende kind
dra ’n nag van distels
dra ’n dood sonder duisterheid

en waai deur die gebreekte riete

Ingrid Jonker (1933-1965)

Ingrid Jonker, Versamelde Werke; Human & Rousseau, Roggebaai; ISBN 079813352X
Ingrid Jonker, Ik herhaal je; Podium, Amsterdam; ISBN 9059590832
Ingrid Jonker, Selected Poems; Human & Rousseau, Roggebaai; ISBN 0798141786

Top